F  R  E  E       W  I  L  D       W  O  R  L  D 
 A   T  r  a  v  e  l   B  l  o  g   f  o  r   t  h  e   W  i  l  d   a  t   H  e  a  r  t
0399


Die Groter Plaas

Ek het gisteraand vir Oom Pieter gaan kuier. Ons het lekker gesels. Hy is baie rustig nou en ʼn regte nice mens. Die plaas waar hy nou boer is groot en wyd en die grond is donker en ryk. Ons het gaan stap en die rooi kluite gewoel en ingeasem. Sy woning is ruim en lig met groot vensters waar die son instroom soos pêrels wat smelt in die somer-son. Ons het lekker gekuier. Hy sê hy wag vir sy mense. Daar is baie tyd. Baie geduld. Baie liefde. Die oes is oneindig en volmaak.

 

Die boer staan en tuur oor die ryp, geel mielies wat in netjiese rye wegsink en klein word in die rooi-laat-middag-son van 'n perfekte Vrystaat middag. Vêr aan die onder end kap die stroper mistige vlokkies droë stronke wat wentel in 'n ligte bries. Dit vorm 'n dun lagie poeier op die diep, rooi grond.

Dis die grootste plaas in die distrik, en hy het byna 'n volle leeftyd gearbei om dit in 'n spogplaas te omskep. 'n Plaas wat sy seun eendag sal oorvat as hy oud en krom aan sy pyp voor die kaggel trek en droom van onnoembare dinge. Of so het hy nog altyd gehoop en geglo.

Hy kniel soos ʼn dienaar en skilfer die droë grond deur sy vingers. Hy hoor hoe die ligte bries speel met die populierbos se blare en kyk op. Behalwe vir ʼn enkel wit wolkie is die vaalblou lug oop, en wyd. Sy blik volg die kronkelpad tot by die hek.

“Waar is hy? Hy moes al lankal hier gewees het. Ek moet hom bel.”

Hy stap na sy bakkie en begin ry. Hy stop langs die stroper en wys met sy een vinger na ʼn denkbeeldige horlosie om sy benerige arm (sy liggaam is besig om stadig verteer te word van binne, net hy weet daarvan, hy en dokter Visser.)

“Tjailatyd!”

Teen sterk skemer tref hy ʼn bakoorjakkals met sy linker voorwiel. Hy stop en retireer. Dan klim hy uit en gaan sit op sy hurke en betrag die sterwende dier in die kopligte. Skielik wel die trane op en hy huil onbedaarlik vir ʼn minuut of so voordat hy homself regruk.

“Dis hoe dit is. Dis hoe dit is.”

Hy prewel die woorde in die rigting van die opkomende sekelmaan. Hy sit en kyk tot die jakkals stil en dood is, dan tel hy die nog-warm liggaam op en sit dit versigtig op die passasiers sitplek voordat hy wegry. Dis reeds donker as hy by die plaashuis kom. Dis stil. Hy bly alleen. Sy vrou het twee jaar terug reeds sy wêreld verlaat. Dit was onverwags. Sy was vyftien jaar sy junior, en gesond. ʼn Gereelde drawwer en staptog entoesias. Haar beroerte bly onverklaarbaar. Sy was besig om te bak vir die skou. Willem het haar gekry. Op die kombuisvloer voor die half-oop oonddeur. Dit was net voor sy vertrek na die landbou kollege. Sy moes die plaas verlaat. Haar familie het daarop aangedring.

Dit het hom lank gevat om gewoond te raak aan die stilte en die alleen, maar hy het deur daai mistroostige drif gekom en nou verkies hy dit so. Hy stel nie belang aan geselskap nie, behalwe die van sy seun. Hy het nog hoop. Hy het nog bloed naby aan hom.

In die kombuis sit hy die jakkals in die opwasbak. Hy stap oor die donker werf na die slagkamer. Hy luister hoe die windlaaier die lug kap. Hy is dankbaar vir die bries. Daar sal krag wees as Willem arriveer. Hy haal ʼn lang mes van die staal rak af en stap terug kombuis toe. Hy sit die mes langs die jakkals neer en gaan maak die oproep.

 

Dit was nooit regtig ʼn keuse vir hom nie. Altans, dit het nooit soos een gevoel nie. Na alles wat gebeur het kon hy hom nie verder teleurstelling besorg nie. Die man se hart was rou en stukkend. Dit was ʼn nodige opoffering. Na twee jaar van toneelspel het hy genoeg gehad. Hy kan net nie meer nie. Hy het nooit van die kollege gehou nie. Die gesprekke het hom verveel en die kursus het soos ʼn meulsteen om sy nek gehang.. Hy het bewus geraak van ʼn groter wêreld daarbuite die dag toe hy haar ontmoet het. Dit was heel onverwags. Sy is afkomstig vanuit ʼn ryk familie. Ougeld. Dis hoe sy kon bekostig om hom op reis te vat. Hy het nooit vir sy Pa daarvan gesê nie. Hy wou nie die ouman ontstel nie. Hy wou nie verdere vrese van verloor aanwakker nie. Op die eiland langs die kus van Mosambiek het hy die eerste keer seks gehad, met haar. Dit het hom nie lank gevat om totaal in haar verlore te raak nie. Sy het sy oë oop gemaak vir baie dinge. Dit was die beste twee weke van sy lewe. En nou?

Sy knekels sit wit om die stuurwiel. Hy jaag want hy het nodig om te jaag, om swaartekrag te fnuik en ʼn nuwe wentelbaan te vind. Alles is so swaar nou. So swaar. Hy kan nie waag om te veel te dink nie. Dink maak seer, onthou breek interne organe. Die prentjies dreig om te flikker, maar hy ignoreer dit met eksterne hulp. Die halfleë whiskey bottel rol rusteloos op die sitplek langs hom. Hy sluk ʼn wit pilletjie af saam die amber vloeistof. Hy weet dis te veel, maar so what? Die man het hom gewaarsku dat mens eintlik ʼn voorskrif nodig het vir die goed. Fok dit. Hy kan dit handle. Hy moet dit hê. Die plaas is in elke geval nie meer te vêr nie. Hy dink aan sy Pa. Hoe gaan hy dit aan hom verduidelik? Hy sal sy woorde mooi moet kies. Hy het weke terug reeds opgeskop. Dit sal nie verewig ʼn geheim kan bly nie. Hy het besluit om alles te los en haar te volg. Stad toe. Die platteland was nie vir haar nie. In die begin was dit goed. Die stad was ʼn opwindende verandering en die lewenstyl het hom aangegryp. Hy was so gelukkig. Hy kan nie glo dat hy so gelukkig was nie. Dit voel nou soos ʼn droom Hy kan nie glo dat hy nou so ongelukkig is nie. Haar kaal liggaam flits deur sy kop, maar sy is nie alleen nie. Hy was nie genoeg nie.

Die kopligte van die aankomende kar verblind hom soos hy om die draai kom, en hy dink: “Laat los net. Dis maklik. Laat los!”

 

Hy slag die vel af en gooi dit vol sout, Hy weet nie hoekom hy dit doen nie. Hy het iewers gelees dat die jakkals ʼn simbool van verandering is. Die artikel het hom aangegryp. Hy voel asof die siel van die jakkals met hom praat, hom aanmoedig om die simbool te eer. Hy kyk na die bloed op sy hande. Sy vingers is krom en oud. Hy voel moeg. Hy stap na sy kantoor en gaan sit onder die ou vlag. Hy voel nie meer tuis in sy eie land nie. Hy is lank reeds nie meer kwaad nie. Hy voel net niks meer nie. Niks. Hy maak die laai oop en haal die rewolwer uit. Hy speel so rukkie daarmee. Die staal is blink en koud. Hy sien in sy geestesoog hoe die jakkals onder die maanlig staan en roep na hom. Hy volg die jakkals.

 

Die dokter het gesê dat hy baie gelukkig was. Dat hy volkome sou herstel met tyd. Hy was dankbaar. Perspektief is ʼn wonderlike ding. Hy fokus op die warmte van die son. Dis die middel van die winter. Laatoggend skyn die son net reg op die deel van die stoep. Hy sit al van kleintyd af so, op dieselfde plek in dieselfde hoek. Dit maak hom rustig. Die jakkalspelsie is net groot genoeg om sy hande te dek, en die koue weg te hou.