F  R  E  E       W  I  L  D       W  O  R  L  D 
 A   T  r  a  v  e  l   B  l  o  g   f  o  r   t  h  e   W  i  l  d   a  t   H  e  a  r  t
0432

Aan die Begin van die Somer

En so het dit gekom dat die lang winter ge-eindig het. Sy het gewag vir die seisoen soos ‘n kind wat kyk na water en soek na ‘n eie beeld. Die beeld dobber en breek, spat en bly dofweg glinster. Hy het gesê hy kom terug hierdie somer, en slegs ‘n deel van haar het dit gehoop; maar nie geglo nie. Die sprokie herhaal homself in haarself.

 

Die naald lê duskant 180 en die wêreld flits verby in die helder, vroëe oggend lig. Hy ry vinnig na nêrens. Hy ry nog vinniger en lag hardop. Die musiek pomp: ‘American Girl’ van Tom Petty and the Heartbreakers.

Hy ry al van gister af, vanaf 7:43 uur post meridian om presies te wees, net na hy vir sy junkie ‘vriend’ gesê het om in sy moer te vlieg en dat hy sal maak soos hy wil, dis sy fokken lewe. Hy weet nie waarheen hy ry nie, hy weet nie wanneer hy gaan stop nie; hy weet nie wanneer die petrol sal opraak nie. Die motor is nie syne nie, hy weet nie wie sin dit is nie. Die motor is swart en kragtig. Die musiek is syne, dit speel van sy I-pod af wat hy orals saam dra. Die bottel whisky in die gleuf tussen die sitplekke is half en hy vat elke nou en dan ‘n teug. Hy weet hy gaan binnekort moeg raak en dan sal hy iets moet doen behalwe om net te ry. Miskien moet hy verongeluk?

Die pad is stil. Elke nou en dan haal hy ‘n trok in en steek dit roekeloos verby, voor heuwels, om draaie, deur vaste lyne en grense van normaliteit heen.

Hy dink aan hulle woorde, hy dink aan sy lewe wat die laaste twee jaar bestaan het uit ‘n stroom kortstondige, oppervlakkige verhoudings, drank en dwelmmisbruik, leë kamers met enkel matrasse en geweldadige seks met vreemdelinge wat desperaat aan die hoeke van die nag klou. Hy dink aan sy liefde en aan die dood; en vat nog ‘n sluk.

Dan dink hy aan sy bedanking en die doos wat hom vir die laaste ses maande  soos ‘n slaaf behandel het. As hy begin dink aan sy toekoms begin die kar proes-proes en blaf soos ‘n bang hond. Hy besef die petrol is op want hy hou die naald al vir die laaste 40 km dop en wag vir die einde. Hy trek die motor af en en stuur dit tot dit tot stilstand kom langs die kaal bossies wat saggies wieg in die oggend bries. Hy vloek, hy huil, hy slaan sy vuiste teen die voorruit tot dit bloei, hy lag, hy skree, hy kots en gaan lê in die gras. Hy kan na die vlies wolkies wat stadig verby beweeg en wonder hoe hy nou gaan verongeluk sonder petrol. Vir lank lê hy so tot hy homself onder bedaar gebring het. Die groot leegte, die groot genadiglike niks omhels hom en verlos hom van sy bewussyn vir ‘n wyle, en as hy weer bykom is hy kalm, maar leeg; en die wêreld hang soos ‘n onwerklike sprokie om hom heen.  Hy staan op en stap na die middel van die pad, hy sit en wag. Na 10 min gaan lê hy met sy oor teen die pad en luister. Na nog 2 min hoor hy die gedreun van ‘n aankomende voertiug. Hy gaan lê plat op sy rug en soek die vlies wolkies uit met ‘n neutrale blik. Hy sien die eerstes en sy verbeelding skets ‘n perd op ‘n skilpad se rug, en dan ‘n pizza skyf wat seks het met Marilyn Monroe, en dan ‘n dun stukkie papier met ‘n woord in vreemde taal daarop geskryf, en dan… brieke wat skreeu en deure wat klap; veel later (hoeveel later weet hy nie), sirenes en mense met blou baadjies en nog meer met rooi oorpakke wat soos die vuil, grys bossies wapper in die wind. Hy kan voel hy skree, hy kan voel hy baklei, hy kan die naald voel wat hom penetreer en sy bloed met chemikaliëe verkrag, hy kan voel hoe sy liggaam swaar word en die lig verdof; en reg aan die einde kan hy voel hoe ‘n onverklaarbare hoop die donker soos ‘n bliksemstraal penetreer.

 

Sy sit langs hom op ‘n hoë rots en betrag die dawerende branders vêr benede hulle wiegende, kaal voette. Hy teug die lug stadig en diep in, stadig genoeg dat sy dit nie sal opmerk nie. Hy is opsoek na die manier waarop sy geruik het toe hy haar die eerste keer ontmoet het.

Sy het tweifel binne haar. Sy moet nie hier langs die man wees nie. Sy moet nie met hom oor al die dinge praat nie; sy moet nie, maar sy wil. Die eksentrieke manier hoe hy dink intereseer haar; hy is ‘n enigma wat opgelos moet word.

“Ek dink nie dis liefde nie: Ek dink hy het iemand nodig wat hom aanbid en jy het nodig om iemand te aanbid, die bron van die wanbeeld bly dieselfde.”

Sy draai haar kop effe skyns met ‘n frons op haar voorhoof en verteer die woorde.

“Hy’s jou broer, hoe kan jy so van hom praat en ek het…”

“Ag kak met dit,” val hy haar in die rede. “…ek het mos nie gevra dat hy my broer moet wees nie. Kyk hoe hanteer hy jou? Hoekom sit jy hier? Hy’s ‘n doos.”

Sy lag half geskok. “Hy’s my man en ek het gekies om met hom te trou, ek is lief vir hom. Jou filosofiese veralgemenings gaan dit nie verander nie.”

Sy bly ‘n oomblik stil en vou haar arms voor haar bors, dan praat sy verder met ‘n fermheid in haar stem wat hom tot inkeer dwing: “Ek het hom nodig ja, en hy het nodig dat ek hom nodig het en vanaf ‘n rasionele oogpunt lyk dit dalk soos ‘n dwaling, maar dis hoe die man-vrou univers saamgestel is, en miskien is dit liefde; om dit te besef en te verstaan en steeds te aanvaar. Jou idealisme is besig om jou seer te maak en dit maak jou venynig.”

Hy besef sy is reg en hy besef ook dis hoekom hy verlief is op haar; sy is die enigste vrou wat nog ooit so direkte insig in sy gemoed gehad het. Dikwels weet sy goed oor hom voor hy dit weet, en dit is ontnugterend; dis die rede hoekom hy nooit vir haar kan wys hoe reg sy soms is nie. Sy mag nooit die omvang van haar mag oor hom besef nie.

Hulle sit en kyk na die meeue wat raserig bo hulle koppe hang. Geleidelik veminder die spanning tussen hulle en albei besef dat die een dankbaar is om in die ander se geselskap te wees. Hy wil weer vra: “Hoekom is jy hier?”, maar hy is te bang hy jaag haar skrik op die lyf; sal hy die vraag kan antwoord? Hy het al dikwels, maar dit los hom met ‘n leë gevoel op die maag en dit ter syde; dit maak hom kwaad.

Hy onthou die dag toe sy broer haar aan hom voorgestel het byna twee jaar gelede: Dit was by ‘n familie braai aan die weskus en sy broer was pas terug nadat hy twee jaar in London werksaam was. Teen daai tyd het almal al geweet van die meisie wat hy daar anderkant ontmoet het, maar dit sou die eerste keer wees dat sy aan die res van die familie voorgestel word. Hy was besig om kreefsterte op die agterstoep te braai toe hy die bohaai vanaf die binnekant hoor: sy Ma wat luidkeels verkondig: “My seuntjie is terug!” voor sy hom omhels en styf teen haar vashou. In ‘n kort verwonde oomblik het hy die laaste van sy bier afgesluk, omgedraai om deur die skyfdeur te kyk. Hy het besluit om te bly waar hy is, “Laat hy hiernatoe kom”, het hy gedink. Hy wou in elke geval nie die kreef verbrand nie. Hy was nuuskierig oor die tipe meisie wat sy broer hier sou aanbring; maar hy het nie groot verwagtinge gehad nie. Hy kon nie indink dat die tipe meisie wat sy broer as kêrel sou hê hom enigsens kon intreseer nie. Hulle was totaal verskillend: Sy broer was die een wat altyd die ‘regte’ besluite geneem het; die verantwoordelike een met die groot toekomsplanne. Op 28 het hy reeds drie jaar as tandartrs in London gewerk en twee woonstelle besit, en nou het hy op trou gestaan. Johan Cornelius Maritz het ook die familienaam gedra, al was hy drie jaar jonger as Jean.

Jean, aan die anderkant; was van kleins af die een wat al die vra gevra en dwars getrek het as die antwoorde hom nie tevrede gestel het nie. Hy was ‘n probleemkind op skool en alhoewel hy natuurlike intiligensie getoon het, het hy akademies nooit goed presteer nie. Die feit dat hy van kleins af nooit soos ander kinders gedink het nie, het ‘n negatiewe invloed op sy selfvertroue gehad. Hy het homself gesien as dom en sosiaal wan-aangepas omdat hy gesukkel het om gesprekke oor sport, meisies en godsdiens te voer. Hy het homself onttrek en ‘n baie alleen kind geword wat met tyd, ‘n baie alleen rondswerwende jong man sonder rigting of vastigheid geword het. Alhoewel hy net-net gekwalifiseer het vir universiteitstoelating, het hy opgeskop na twee jaar. Die omgewing het hom verveel en die akademiese wêreld het geen sin gemaak nie. Hy het gevind dat hy die mees insiggewende geprekke nie met sy mede studente gevoer het nie, maar met trok drywers, prostitute, dwelm verslaafdes, bergies, bende lede en ander figure wat ‘n skadu bestaan op die rant van die samelewing gevoer het waar die algemeeen anvaarde normes en sosiale kondisies nie gegeld het nie. Hy het sy intelektuele stimulasie gesoek op plekke wat die meeste ‘normale’ mense vermy het. Die ‘donker’ kant het hom gefasineer en ge-intereseer. Volgens hom was die gemiddelde mens gesosialiseer om blind te wees, die huigelaaragtigheid van so ‘n oogklap bestaan het hom verafsku en vervreem; en so het ‘n lang tog begin wat hom al hoe verder weggevoer het vanaf die mense wat naaste aan hom was. Hy het ook geweet dit sou nutteloos wees om dit te probeer verdudielik, die vis in die dam kan nie die padda op die rant verstaan nie.

Cornelius was die sporster op skool en die uitblinker op universiteit. Hy kon nie sy broer se rigtingloosheid verstaan nie en het hom dikwels blameer vir die spanning in die familie. Vir hom was die lewe eenvoudig: Jy stel doelwiite, werk hard om dit te bereik en is verantwoordelik vir jou keuses. Hy was trots daarop om homself as ‘n verantwoordelike jong man in die samelewing te kan beskryf en hy het geglo dis belangrik dat almal ‘n bydra maak aan die groter orde an dat alles ‘n doel het wat so beplan is deur ‘n groter intiligensie, die Skepper of watter naam jy ookal kies om te gebruik.

Die skuifdeur gaan oop. Jean draai om. Hulle skud blad en groet:

“Yes ouboet, lekker om jou te sien.”

“Likewise, welkom terug.” Groet Jean.

Daar is ‘n oomblik se stilte voor Jean die vreemdheid met ‘n vraag verjaag:

“Is jy hier om te bly?”

“Ons besluit nog. Ons gaan eers die vakanise geniet en Ma gaan ons help met die trou reëlings. Die praktyk waarin ek betrokke is in London het gesê ek hoef nie dadelik te besluit nie, hulle sal my posisie vir my oophou. Ja, dis ‘n moeilike een. Suid-Afrika bly my land maar geld praat.”

Jean sug inwaards: “Moet die poephol in die eerste vyf minute kom staan en praat oor geld?” dink hy, maar hy weet dis beter vir almal as hy die status quo behou en besluit om eerder vriendelik terug te spot. Hy lug ‘n kreef op met die braaitang en hou dit voor Cornelius se gesig. “Hoeveel pond vir so een boet?”

Hulle lag, maar onder die lag lê ‘n verskuide inuendo en albei is ligweg bewus daarvan.

“Kom, laat ek jou voorstel aan my verloofde, sy’s great; jy gaan haar geniet.”

Cornelius trek aan Jean se arm maar Jean trek sy elmboog los.

“Wag boet, die krewe braai droog. Laat ek hulle net gou afhaal en in die bak sit, ek’s nou daar. Kry solank vir ons ‘n paar biere.”

Hy was huiwerig om binne toe te gaan. Hy wou nie regtig daar wees nie, familie geleenthede was vir hom ‘n iritasie omdat hy konstant gekonfronteer was met al die rituele en konvensies van die gemiddelde mens wat vir hom so iriterend was. Die mens as tropdier wat handel sonder om krities te oorweeg en oopkop besluite te neem was iets wat hy nie kon begryp nie. Hy kon nie aanvaar dat mense nie verder as net dit wou dink nie. Hy was nie gemaklik binne hulle gemaksone nie, iets aan die ander kant het bly wink. Hy was ‘n aalleenloper en het dit so verkies.

Hy het ‘n wyle voor die skuifdeur bly staan voor hy dit oopgetrek het. Binne was die atmosfeer een van ekstase soos mense klets en giggel. Hy het stadig nader gestap met die braaibak in een hand en die braaitang in die ander. Hy wou ongesien wees, soos die geheimsinnige monster in ‘n wetenskapsfiksie.

Die eerste ding wat hom bygeval het was haar lag. Dit was spontaan en openhartig sonder om vulgêr te wees en sy het ‘n diep stem gehad: dit was die eerste atraksie. Hy het dit gehoor voor hy haar kon sien met die inkomslag. Die eerste beeld was haar lang, roesbruin krulhare wat oor ‘n wit bloes geval het. Dit het los gehang tussen skraal, prominente skouers wat uiters breekbaar onder die harde, neon kombuislig voorgekom het.

Hy het doelbewus sag nader gestap en teenaan haar gaan staan voor enige iemand anders hom kon opmerk waar hulle in ‘n groep staan en skerts het. Dit was toe, in daai bedwelmde oomblik, dat hy haar reuk ingeasem het en die moment het bly talm sonder die begrip van tyd of ruimte.

 

“Soek jy nog vir werk?”

Sy antwoord nie dadelik nie. Sy tel ‘n klip op en streel oor dit met haar vingers. Die vraag ontroer haar. Sy het skielik besef hoe baie sy van haarself opgee in die naam van liefde tussen ‘n man en ‘n vrou. In die begin was dit so vry en lig, daar was so baie grappies an lag. ‘n Sagte glimlag sprei om haar mond as sy daaraan dink.

“Cornelius wil nie hê ek moet werk nie... ons praat oor kinders.”

“Kinders?”, grunnik Jean. Hy kan voel hoe die jaloesie deur sy liggaam sprei soos die verlammende gif van ‘n verskuilde dier, ‘n slang wat diep binne hom wegkruip en homself stadig en sidderend ontkronkel as die verkeerde bewegings hom ontwaak uit sy koue slaap.

“Doos, wat van jou joernalistiek? Jy’t tog nie verniet ‘n graad gekry nie. Ek dog skryf is die een groot passie in jou lewe?”

“Wel, dis nou die tweede groot passie in my lewe.”

Hy laat ‘n sardoniese laggie ontsnap: “Dit klink vir my na ‘n moerse kompromie. Hoekom doen ek en jy nie ‘n storie nie? Ek neem die foto’s en jy skryf? Komaan, dit kan pret wees.”

Sy dink aan sy voorstel en haar eerste instink is om sonder tweifel of huiwering te sê: “Kom ons begin sommer nou.” Maar al wat sy nou doen is om die woorde te dink, en nie hoorbaar te maak nie. Sy dink aan hulle reise in Europa en hoe geduldig Cornelius altyd met haar was; hy sou altyd sy planne verander om haar joernalisieke ambisies voorkeur te laat geniet. Sy het nooit een storie verkoop gekry nie. Een of twee simpatieke redigeurs het ‘n briefie van aanmoediging terug gestuur: ‘We regret to inform you that we are currently not covering this topic in our upcoming issues, but feel free to forward future articles on to us and we will consider them for publication. Kind regards...’ blah-blah-blah...

Haar selfvertroue het stelselmatig gekwyn onder al die afkerings en vals aanmoedigings. Sy kon dit nie verhoed nie; dit was in haar natuur om goed persoonlik op te vat, sy het begin glo dat sy eenvoudig nie dikvellig genoeg is vir die bedryf nie. Miskien is dit nie so slegte ding om ‘n normale lewe van sekuriteit in ‘n familie en man met ‘n goeie werk te hê nie. Cornelius was altyd daar vir haar, altyd ‘n sagte kussing om op terug te val.

“Ek weet darem nie jong, dis nie maklik om goed gepubliseer te kry nie; glo my gerus. Ek sal in elke geval eers vir Cornelius moet vra.”

“Ja, ja” sug Jean, “ek weet, maar mens moet aanhou probeer, besides; wat beters het jy om te doen? Ek ken een of twee joernaliste wat permanent werk by tydskrifte; ek sal hoor of daar ‘n kans is.”

Antoinette kan voel hoe ‘n lang vergete opgewondenheid haar beetpak, waar sy wil dit nie herken of verwelkom nie: “Ek moet gaan.”

“Jy moet alewig gaan.”

 

Cornelius is besig met ‘n roetine ondersoek. “Maak mooi wyd oop vir my asseblief.”

Hy gaan deur die aksies soos ‘n duisend keer tevore terwyl sy gedagtes onvermydelik wegdryf na die onderwerp wat die laaste ruk ongenooi aan hom kom kleef. Hy het al geleer om sy bewussyn in twee te deel; die een kant van hom kan totaal en al betrokke wees by die aksies wat hy verrig terwyl ‘n ander deel van hom top oor ‘n verskeidenheid dinge wat sy aandag vereis; maar vir die laaste ruk is dit dieselfde kwessie wat keer op keer uit die donker poel van sy onderbewussyn na bo dryf, soos ‘n opgeblaasde lyk in ‘n grilfliek wat oor en oor op die skerm afspeel in ‘n teater waar die deure dig gesluit is.

“Hmm, ons sal ekstrale moet neem van jou verstand tande.”

Vir die eerste keer in sy lewe het hy begin tweifel aan die sin van sy bestaan. Tot nou toe was die tipe emosies onbekend vir hom: hy was nog altyd seker wat hy uit die lewe wil hê en hoe om dit te bereik. Hy was altyd ‘n hoogs gemotiveerde persoon wat sy doewitte bereik het; en hier is hy nou. Hy het ‘n suksesvolle praktyk opgebou, hy verdien ‘n goeie inkomste en hou sy paaiemente by. Hy is getroud met die vrou van sy drome en hulle beplan om ‘n gesin te begin. Hulle bly in ‘n gemaklike huis in ‘n welaf voorstad in ‘n pragtige stad. Op die oog af behoort hy een van die gelukkigste mans op aarde te wees, maar vanaf uit die helder bloute sonder aarsel het ‘n donker wolkie vol vraagtekens en tweifel die eens skoon horison van sy bewussyn binne gesuipel, soos ‘n onwelkome gas by ‘n bruilof.

“Goed, jy kan jou mond uitspoel. Jy sal een of ander tyd moet terugkom sodat ons ‘n plan kan sien met daai verstandtande.”

Hy het skielik begin wonder of hy hierdie werk sal kan doen vir die res van sy aardse bestaan en of die hy die gevoel van bevrediging wat hy eens daarin gevind het; (wat stelselmatig begin kwyn het onder vaste roetines en herhaling) weer sal voel.

Dis asof hy ‘n roerlose plato bereik het waar die lug helder en skoon is, so helder en skoon dat dit sielsdodend en vervelig is. Hy grunnik vir die ironie. Hy het die berg uitgeklim, en nou dat hy op die piek staan en die landskap onder hom betrag; wonder hy wat volgende is? Is daar nog iets? Is dit al waaruit sy lewe gaan bestaan; om in mense se monde rond te krap, aandete voor die tv te eet en twee keer ‘n jaar op vakansie te gaan? Wat anders? Wat anders?

Die normale verloop is seker om met ‘n familie te begin, en hy het ‘n behoefte daaraan; maar hy wonder of dit nie ‘n selfsugtige impuls is nie. Dalk is dit iets wat hy wil doen om sy eie onvergenoegdheid te oorbrug.

Behalwe dit het dieselfde tendens begin posvat in sy huwelik. Hulle is lief vir mekaar, ja; maar hulle het gewoond geraak aan mekaar. Die spontaniteit en opwinding is weg; die seks het geroetineerd geraak; soveel so dat hy soms opsien daarna om deur die spel te gaan as sy liggaam bevrediging vereis.

Haar houding het ook verander. Sy is deesdae dikwels geiriteerd en terughoudend, en as hy vra wat verkeerd is, kyk sy net weg en bly stil. Dit dryf hom tot raserny en die trant van hulle argumente het die laaste ruk ‘n onheispellende kilheid begin toon. Dit bekommer hom. Hy is bang hy verloor haar. Hy is bang hy verlooor homself.

 

Sy sit met haar kop in haar hande by die kombuis tafel. Hy sit oorkant haar met ‘n sigaret in sy vingers. Sy hande bewe liggies. Hy hou sy woede onder bedwang want hy besef die bron daarvan is die wond wat haar woorde toegedien het.

Sy kyk op: “Ek het nodig om te gaan. Ek het nodig om dit te doen.”

Sy maak ferm gebare soos sy praat en haar stem is skril met emosie.

“Ek droom nie meer nie; soms voel dit of ek net asem haal.”

Hy weet hy moet versigtig wees oor wat hy sê want die situasie is plofbaar, ‘n delikate paleis van kaarte wat dreig om te kantel.

Alhoewel; hy is moeg vir beheer en om altyd verantwoordelik te wees vir elke dingetjie. Hy soos ‘n ballon wat wil bars.

“Dink jy nie dis tyd dat jy grootword nie?”

Hy besef onmiddelik dat die woorde die hele situasie gaan vererger en al wat hy nou kan doen is om terug te sit en die komende tragedie te probeer oorleef sonder permanente emosionele letsels vir hom, of vir haar. Wat gaan volg is skadebeheer, deesdae is dit omtrent al wat hy doen.

“Grootword?”, sê sy nou totaal histeries.

 “As grootword beteken om ‘n lewe van apatiese aanvaarding te lewe vrek ek eerder! Jy het jou praktyk, jou jag en golf maatjies. Wat het ek? Ek sit hier by die huis en staar by die ruit uit en kyk hoe my drome hulleself een vir een verpletter. Ek voel niks meer nie. Ek het altyd so baie omgegee oor issues, ek wou skryf daaroor. Ek wil weer so voel!”

Hy sug. Hy weet daar is niks meer om te sê nie. Hy gee innerlik totaal oor. Die situasie het hom geknak soos die laaste pion voor die koning op ‘n skaakbord. Hy bly steeds swak in haar teenwoordigheid; ‘n groot, suksesvolle man soos hy. Hy grunnik vir homself en voel hoe die pilare onder hom wegval.

Dit was nie die einde van die gesprek nie, maar hy kon nie langer daar wees nie. Hy het opgestaan en by die voordeur het hy omgedraai en gesê: “Ek het nodig om te dink, ek gaan ‘n entjie ry.”

Hy het gery na die naaste kroeg toe en in die een hoek gaan sit en dubbel op dubbel bestel tot hy nie meer omgegee het nie; totdat hy vir homself kon sê: “Miskien is dit nie so slegte ding nie. Miskien sal ‘n  bietjie afstand ‘n goeie ding wees”, maar hy was nie ten volle oortuig van sy eie woorde nie. Die letsel sou bly. Met tyd sal dit beter lyk en hulle sal dit ignoreer, maar dit sal altyd daar wees.

Sy het bly sit by die kombuis tafel en lank gehuil. Toe sy uitgehuil was het sy haar gesig gaan was en ‘n vreemde tipe ferm kalmte het haar gemoed betree en dis toe dat sy besluit het: “Ek gaan. Ek moet gaan. Dis ‘n kwessie van oorlewing.”

 

“Waarheen gaan ons?”

“Ek weet nie.”

“Maar ek dog jy’t gesê jy’t kontakte... leads...”

“Ek het gelieg.” Hy lag hardop.

Sy gaap hom aan: “Jy weet Cornelius betaal vir hierdie roadtrip, ek het hom letterlik op my kniëe gegaan en hom gesmeek? Ek het ‘n moerse tantrum gegooi.”

Hy lag weer: Ag moennie worry nie, hy’s loaded. So waarheen gaan ons?”

“Nee ek weet nie, ek vra mos vir jou.”

“Kies ‘n plek... of ‘n rigting.”

Sy dink ‘n rukkie voor sy antwoord: “Nee man, ek kan nie. Jy’s simpel; ek doen nie sulke goed nie.”

Hy sug: “Boring!”

Hy sit die kar in eerste rat en begin ry. “Plug die ding in.”

Hy oorhandig sy I-pod aan haar en sy prop dit in. Hulle trek weg met die klanke van ‘n liedjie wat sy nog nooit gehoor het nie.

“Wie’s dit.”

“My Morning Jacket.”

“Weird, maar ek hou daarvan.”

“Dis ‘n mix, daar’s allerhande weird shit op.”

Hulle ry vir ‘n hele ent sonder om te praat. Die musiek is hard. Hy ry met sy venster oop en konsentreer op die gevoel van die wind op sy gesig.

Sy dink, haar gedagtes is holdesterbolder; sy is onseker en deurmekaar. Sy voel ook ‘n bietjie skuldig en sy bekommer haar oor Cornelius.  Fragmente van sinne en herhinneringe vleg ‘n emosioneel belaaide tapisserie in haar gemoed. Sy is eitnlik glad nie seker hoe sy voel nie.

Hulle ry deur die tonnel en voel saam verlig as die lug aan deur die ander kant se ente breek. Hulle wieg deur die draaie van die pas op die ritme van die reis. Net anderkant Worcester stop hulle by ‘n padstal: “Ons is mos nie haastig nie, of hoe? Kom ons vat ons tyd. Hoe lank het jy vir hom gesê ons gaan weg wees?”

“Ek het nie.”

Hulle lag en kyk na mekaar se mondhoeke; en vind dit bevredigend. Hulle klim uit en koop koeldranke en volstruis pasteie wat hulle op die klein stoepie in die koelte by ‘n houttafel verorber. Dis besig om warm te raak en die son brand helder.

“Dis in elke geval nie nou ‘n goeie tyd vir kiekies neem nie, die lig is te hard.” Hy sê met ‘n mond half vol kos.

“Eet klaar voor jy praat.” Maan sy spelerig, maar ook half-erntsig.

Hulle reis ‘n entjie verder. Net buite De Doorns gewaar hulle die staal strukture van ‘n karnaval op ‘n verlate, stowwerige stuk oop grond op die buitewyke van die dorp. Hulle besluit om in te ry. Die wind ruk aan hulle klere as hulle uitklim. Die staal strukture lyk geroes en oud. Behalwe vir ‘n ou swart man wat onder ‘n gelapte saambreel sit is die plek verlate. Jean haal sy kamera uit en begin foto’s neem. Daar is nou ‘n dun laagie stof en vlieswolke tussen hulle en die son wat die lig plek-plek in ‘n half sinister en skemeragtig kamoefleer. Hulle gewaar ‘n teken op ‘n ou gehawende karavaan waarvan die blou verf afskilfer wat lees: “Tickets. Kaartjies.”

‘n Groot vrou met ‘n blommetjiesrok sit met haar vet voorarms op die toonbank gevou.

“Hier is dalk ‘n storie, of ten mintse die begin van een.” Roep sy half oor haar skouer na Jean, maar hy is vasgevang in sy eie gedagtes aan die onderent van die Kermis Wiel terwyl sy kamera ‘n konstante meganiese klik-klik geluid prewel.

Sy stap na die vrou en knoop ‘n gesprek aan: “Hello, my naam is Antoinette,” sê sy en steek haar hand uit.

“Hi, ek’s Victoria” sê die gehawende vrou en skud Antoinette se hand met groot, lomp vingers.

“Dis maar stil nê?”

Die vrou sug: “Ja jong, die kinders van vandag speel eerder tv games. Dit behoort darem vanaand ‘n bietjie op te tel.”

“Kan mens nou al ‘n rit neem?”

“Ja seker. Enige een behalwe die een” sy wys na ‘n half geroeste aparaat, “ hy het gebreek en ons wag nog vir ‘n technician om hom te kom reg maak, hy kom uit die stad; sal seker netnou hier wees.”

“Ag dis oraait, ek soek net twee kaartjies vir die Ferris Wheel.”

Die vrou skeur twee kaartjies af en handig dit oor. Antoinette haal haar beursie uit, maar die vrou keer haar.

“Nee dis okay, dis op die huis; julle is die eerste customers van die dag.”

“Dankie.”

Sy stap oor na Jean en trek aan sy arm: “Kom, ek het twee kaartjies vir die Ferris Wheel.”

“Is jy seker?” vra hy laggend. “Het jy gesien hoe geroes die goed is.”

“Is jy dan bang?” vra sy. “Kom, dis verniet. Die vrou het gesê ek hoef nie te betaal nie.”

“Wel okay dan.”

Die swart man staan op van onder die boom. Hy haal ‘n kettingkie af wat dien as hek voor die wiel en hulle gaan sit op die wiegende bankie. Hy maak seker hulle sit veilig agter die staal stang wat hy toeknip voor hy die kragopwekker aansit wat die wiel laat daai. Die rit begin met ‘n ruk beweging voor hulle stadig opwaarts begin wentel. Namate hulle hoër gaan verander die landskap om hulle heen. Hulle sien die roesbruin wingerde in lang stroke teen die vallei afloop. Die motors op die groootpad kom met ‘n sagte geruis teen die pas af waarna dit onder verby beweeg en weer bult-op verdwyn aan die anderkant van die dorp.

“Shit, dis nogal nice van hier af.”

“Ek hou nie eintlik baie van hoogtes nie.” Sê hy.

“Jy? Jy’s dan altyd so vreesloos. Ek het nie gedink jy skrik vir enige iets nie.”

Hy wonder skielik of hy dit moes erken. Hy weet hoe maklik dit is om swak voor te kom volgens ander se persepsies. Mense is soms so dierlik, hulle is konstant besig om onderliggend mekaar op te weeg en opinies te vorm.

“Jy moet wakker wees.” Dink hy by homself.

“Almal het hulle blindspots, hoogtes is seker maar myne. Wat is joune?”

Sy dink fronsend voor sy antwoord: “Ek is bang ek voldoen nie aan ander se verwagtinge nie.” Sy besluit om dit daar te los. Die gesprek maak haar weerbaar.

“Dis te abstrak. Wat anders maak jou bang? Ek meen soos in spinnekoppe of slange; so iets.”

“Motte.”

“Motte? Motte het nie tande of gif nie, hoekom motte?”

“Ek weet nie, hulle is grillerig. ‘n Vrees hoef mos nie rasioneel sin te maak nie, of hoe? Die meeste vrese is in elke geval glad nie rasioneel nie. Ek hou net nie van motte nie.”

Sy huiwer voor sy vêrder praat: “Cornelius dink dis baie snaaks, hy benat homself van die lag elke keer as ek vir ‘n mot gil.”

Sy sê dit sonder om enige emosie te wys. Hy weet nie hoe om te reageer nie en bly ‘n rukkie stil voor hy antwoord: “Ek dink dis deel van die mens se natuur om vrese te hê en dis onafwendbaar dat mense hulle sal ontwikkel; dis die gene se manier om jou op jou tone te hou. Vrees het ‘n doel; ‘n baie belangrike doel. As lewendige organismes op ‘n gevaarlike planeet moet ons instinkte skerp wees, of ons sal faal as spesie. Ek lag altyd as ek ‘n ‘No Fear’ sticker of t-hemp sien, die ontkenning is eintlik ‘n erkenning.”

Sy lag; ‘n lekker oop spontane lag: “Sjoe, dis nogal diep, het jy dit als sopas uitgedink? Maggies.”

Hy lag saam: “Nee ek het dit in al my kakbang oomblikke uitgefigure, wat nogal baie is. Ek het seker maar ‘n moerse drang na oorlewing”.

Hy besef hy gee nie meer om, om weerbaar voor haar te wees nie. Wat maak dit tog saak in elke geval? Hy voel skielik lus om haar hand te vat en dit saggies te druk, maar hy besef dat dit totaal onvanpas sal wees. Die res van die rit praat hulle nie. Hy neem foto’s van haar, van die landskap en die bewegende skaduwees wat hulle silhouette op die rooi grond maak. Hulle kry albei die gevoel dat die man hulle ekstra lank laat bly op die rit. Hulle albei vrees die moment wanneer hulle weer die aarde se vaste bodem sal moet betree.

 

Cornelius sit in die voorkamer en ky na die beeld op die TV. Hy sien die beeld flikker en hoor die nuusleser se stem, maar registreer nie die gebeure nie. Die huis voel vreemd en leeg, soos hy. Dit was vreemd om by die stil huis aan te kom en nie gegroet te word nie. Hy het oor die gepoleerde houtvloer gestap en geluister na sy voetstappe, na die manier hoe sy baadjie kreukel wanneer hy dit ophang; en haar reuk wat orals in die lug hang was soos ‘n pynlike herhinnering. Hy het verlang na haar aanwesigheid.

“Ruk jouself reg, sy’s net weg vir ‘n paar dae.” So het hy sy aandag probeer aftrek, maar sy woorde het onoortuigend in die eter gaan wegkruip. Hy het na die yskas gestap en ‘n bier oopgemaak en dit gedrink terwyl hy die tuin natgooi. Sy was eintlik die een met die groen vingers. Hy sou haar dikwels laatmiddag in die tuin aantref na werk waar sy op haar knieë staan, besig om in die donker grond te vroetel.

Dit was warm, die somer het soos ‘n koma die laat-middag bedwelm. Hy het nog ‘n bier gedrink, en toe ‘n whisky met soda.

 Dit het hom nie beter laat voel nie, net meer alleen. Hy het gestap na die foon om ‘m vriend te bel: “Yes Gerhard, hoe gaan dit? Wat maak jy? Is jy nie lus om ‘n paar balle by die driving range te gaan slaan nie?”

Sy vriend het die aanbod vriendelik afgewys met ‘n verskoning van geen belang. Hy kon nie onmiddelik aan nog iemand dink om te bel nie.

“Was ek nog altyd so alleen maar net te besig om dit agter te kom?” Het hy homself gevra. Die gedagte het hom bang gemaak.

“Kom nou, jy is nie meer ‘n kind nie; jy is ‘n man.”

Hy kon nie sy gedagtes keer om te top oor waar sy en Jean nou kan wees nie. Wat maak hulle? Lag sy saam met hom, soos hulle altyd gelag het? Hy het die gevoel van jaloesie wat hom oorval het met sy rasionaal probeer oorwin: “Kom nou, moenie paranoid wees nie, dis jou broer. Jean? Gmph, nee wat; sal nooit gebeur nie. Hy is ‘n... ‘n loser? Ja kom ons herken dit maar. Wat het hy nog ooit reg gerkry met sy lewe behalwe om die res van die familie te onstel met sy kak?”

Hy het skielik besef dat hy bitter is. Dit was nie die tipe emosie waarmee hy die beeld van homself kon versoen nie. Hy is tog nie die bitter tipe nie. Hy is suksesvol en mense hou van hom. Hy het ‘n lojale kliënte basis oor jare opgebou. Hy kon nie aan een persoon dink wat nie van hom hou nie. Sy praktyk en persoonlike lewe was tog gebou op goeie mense verhoudings? Sy familiebande was gesond en hy het homself as die opkomende patriarg gesien, ten spyte van die feit dat hy die jonger broer was. Jean was onverantwoordelik, sonder enige vastigheid. Hoe kon hy of enige iemand anders in die gesin opkyk na hom? Nee wat, onmoontlik. Hy het weereens aan nog iemand probeer dink om te bel; maar die naam het hom bly ontglip.

 

Dis laatmiddag en die son skyn goud oor die karoo. ‘n Bordjie sê: “Touwsrivier 10 Km”

“Sal ons afdraai?” Vra hy.

“Touwsrivier? Wat op aarde kan tog daar gebeur.”

“Wel, dis juis die punt, ons weet nie. Die son is laag, ons moet seker iewers slaapplek soek. Ek is nie lus om in die nag te ry nie.”

“Okay, maak tog nie saak nie. Klink so goed soos enige ander plek vir my.”

Hulle draai af en ry deur die dorp.

“Fokkit, hier gaan niks aan nie; en die plek is maar vaal.”

Sy lag: “Ja, ja...”

Hulle ry verby die drankwinkel. Hy stop skielik en maak ‘n u-draai in die verlate hoofstraat. Hulle koop bier en wyn voor hulle weer aanry.

“Sal ons die dorp verken?”  Vra hy.

“Ja maar ek dink nie dit gaan ons baie lank vat nie.” Sy lag weer. Sy het lanklaas so gereeld gelag. Sy dink aan Cornelius by die huis en wonder of hy okay is. “Ja wat”, dink sy “hy kan na homself kyk.”

Hulle ry oor die treinspoor na ‘n deel van die dorp wat teen die kop gebou is.

“Dit lyk soos die ouer deel, die huise lyk oud.” Sê sy.

“Ja, ek laaik dit; ek hou van ou huise.”

“’n Ou huis met ‘n groot stoep en ‘n roostuin.” Haar woorde hang soos ‘n soete lokval in die aankomende skemer.

“’n Stoep wat reg rondom loop en ‘n tuin met lemoenbome en hoenders... en ‘n speenvarkie.” Sy woorde eggo binne hare.

“’n Varkie?” Vra sy terwyl sy haar hand op sy voorarm sit. Jean is baie bewus van die kontak tussen hulle, haar hand op sy arm voel hewig en dit maak hom effe senu-agtig.

“Ja, hulle is nogal oulik, baie slimmer as honde.”

“En perde.”

“Verseker.” Be-aam hy.

Hulle ry terug oor die treinspoor en draai regs. Hy stop tussen die begrafplaas en die treinspoor en klim uit. Hulle gaan stap deur die grafte en lees hardop vir mekaar die name uit:

“Kom kyk hier!” Roep sy op ‘n stadium van die ander kant af. “Hier lê nog ‘n Cornelius du Toit!”

Hy stap nader. Hulle staan voor die ou graf met sy verweerde marmer klip.

“Cornelius Johannes du Toit. Gebore 1899. Ontslaap 1963. Rus in vrede Pappie.’,” Pappie, dis vreemd, ek wonder of hy vêrlangs familie is. Die middelnaam verskil. Sal ons vir Cornelius bel en sê dat hy dood is?”

Hy sê dit spottend. Sy staan met haar hande voor haars bors gevou en lag nie.

“Dis net ‘n grappie.” Soek hy witvoetjie.

Hulle gaan sit op die lae muurtjie wat die begrafplaas omring met hulle rûe na die grafte. Hy gaan haal twee biere uit die koelboks en maak dit oop. Die son is nou baie laag en die spoorlyn blink dof in die skemer. Hy dink hoe goed dit is om stil te kan wees saam met iemand, om stil te kan wees saam met haar. Dis min dat jy stil kan wees saam met ander mense. Die meeste mense dink mens moet die stilte vul met enige snert wat in jou kop opkom. Die stilte maak hulle bang en onseker. Hy kon nog nooit lank uithou in sulke geselskap nie. Dit verveel hom om na ander se onbenullighede te luister, en hy hou ook nie daarvan om ander te verveel met sy onbenullighede nie. Dis anders met haar; sy het geen verwagtinge nie; en sy weet hoe om stil te bly.

‘n Paar voëltjies wip op die spoor en hulle kwetter verkondig die laaste sonstrale.

“Sal ons gaan?” Hy raak liggies aan haar skouer.

Sy staan op en sluk die laaste bier uit die bottel. Sy stap na die kar toe, maak die deur oop en bring nog twee biere te voorskyn. Sy kom sit langs hom en sê: “Nog nie nou al nie, kom ons rook eers ‘n sigaret.”

“Ek dog jy’t lankal opgehou?”

“Ja wel, ek begin nou weer. Gee my ‘n sigaret; en jy sê nie vir Cornelius nie.”

Hy haal die verfrommelde pakkie uit sy jean se sak en haal ‘n krom sigaret uit wat hy vir haar aansteek.

“Nooit nie, rook skuldgevoel vry.”

 

Hy kyk na die foto’s teen die muur. By een kniel hy langs ‘n Kudu bul wat hy pas geskiet het. In die foto hou hy hou die bok se kop omhoog, die horings krul deur sy palms. Hy onthou hoe swaar die kop was en hy onthou die oomblik wat hy die sneller getrek het. Dit was ‘n jong bul in sy fleur, sy kop was na bo gerig met die spiere bultend in sy nek terwyl hy blare van ‘n akasia gevreet het. Hy lag saggies vir homself as die herhinnering sy gemoed tydelik verlig. Daar is nog ‘n foto langs dit van hom en sy Pa en ‘n paar vriende wat om ‘n bosveld vuur sit. Hy stap nader en haal die foto van die muur af en hou dit in sy hande vas. Almal op die foto is besig om te lag; waarskynlik vir iemand se grappie, hulle lyk baie gelukkig; amper uitbundig. Hy streel met sy een hand oor die foto en glimlag.

Hy stap na sy groot hout lessenaar met die foto in sy hand en gaan sit in die stoel. Hy sit die foto voor hom neer en staar nog ‘n rukkie daarna voor hy ‘n vel papier nader trek. Hy maak die lessenaar se laai oop en haal ‘n goue pen uit. Dis ‘n pen wat hy selde gebruik; net vir spesiale boodskappe aan goeie vriende en familie, en op ‘n tyd was dit ook die pen waarmee hy liefdesbriewe aan geskryf het; voor hulle getroud was. Die pen was ‘n geskenk van sy Pa op die dag wat hy sy graad gevang het en dit het baie sentimentele waarde vir hom.

Hy vryf sy hand oor die soepel houtblad van die lessenaar, en dan weer oor die foto. Dan begin hy skryf. Dit vat hom nie lank om die nota te voltooi nie, hy het heel aand wakker gelê en presies beplan wat hy wil sê. As hy klaar is vou hy die nota netjies in twee en sit dit onder die foto. Dan stap hy na die kluis.

 

 

Die kroeg is sag verlig. Behalwe vir hulle is daar net drie ander mense by die toonbank; en die kroegman.

“Ek voel skuldig.”

Sy sê dit gedemp terwyl sy afkyk na haar drankie, ‘n gin en bitter lemon.

“Skuldig? Waarvan praat jy?”

“Dit voel of ons op vakansie is, is ons nie suppose om meer werkagtig op te tree nie?”

Hy lag: “Werkagtig? Nee man moennie laf wees nie, ek het onlangs ‘n artikel gelees waarin staan dat een van die goed waaroor sterwende mense die spytste is, is dat hulle te hard gewerk het. Kom ons drink nog ‘n shooter.” Hy roep die kroegman nader: “Twee tequilas asseblief. Los maar die sout en suurlemoen.”

“Hey! Ek is al klaar onvas op my lang nou stoeltjie.”

Die shooters ariveer. Hy skuif een oor na haar toe en lug sy glasie omhoog: “As your attorney I advise you to drink this shooter.”

Sy kan nie help om te lag nie: “Fear and loathing in Las Vegas, ek love daai movie.”

Hulle drink. Die kroegman staan met sy arms gevou en kyk fronsend na hulle. Hy het ‘n ligblou golf hempie aan met die hotel se logo op en hy lyk oud voor sy tyd. Diep voëe kerf kraters onder sy oë en sy stoppelbaard lyk soos ‘n pas gesnyde graspekie waarop sneeu geval het.

Aan die een kant sit ‘n vet middeljarige man met ‘n kep op sy kop wat lees: “Toerien Transport.” Hy staan op en skuif nader.

“Julle van die Kaap?”

“Jy bedoel soos in Kaapstad?” Vra Jean.

“Ja, watse anderste Kaap dan?” Vra die man terug in ‘n lispel tong, hy sit al blykbaar ‘n geruime tyd by die kroeg.

“Julle lyk soos kunstenaars. Lyk hulle nie soos kunstenaars vir jou nie?” Hy vra dit vir die kroegman terwyl hy sy leë glas neersit en met een vinger daarna wys om aan te dui dat hy reg is vir die volgende rondte.

‘n Ligte iritasie pakkie Jean beet. Die vreemdeling het geen reg om oor hulle lewens te spekuleer nie, dis ‘n indringing van hulle private spasie.

Die kroegman gee ‘n snork laggie: “All sorts. Die bar is soos ‘n liqourice allsorts pakkie, sonder die swart. Daai allsorts hou ons in die bar langsaan.”

Jean voel hoe woede hom beetpak. Dit word aangedryf deur die tequila. Hy ken die gevoel al te goed; hy kry dit gewoonlik voor hy swart begin sien en gewoonlik word hy die volgende dag wakker met ‘n paar blou kolle en ander letsels: “Is jy ‘n rasis? Is julle ‘n spul donnerse rasiste in die plek?” Skielik is die atmosfeer ongemaklik en gespanne.

Antoinette vat liggies aan sy arm: “Kom nou” por sy, “nie nou nie. Ons is besig om so goeie tyd te hê, moet jou nie steur aan hulle nie. Hulle verstaan nie van beter nie.”

Hy kan voel hoe sy luim wegsak soos iets wat oorgee. Hy voel skielik bedroef, hy wil in haar arms lê en huil. ‘n Deur na homself staan wawyd oop en hy sukkel om sy emosies in te toom te hou.

Die man met die pet aan klap sy vingers: “Hey Bennie, gooi ‘n rondte daar vir die tweetjies op my. Sit shooters by. Skryf dit sommer op die boek ou pêl.”

Hy lig sy vol glas: “Cheers partners!”

‘n Kris Kristofferson liedjie begin speel: ‘The Silver Tongued Devil.’

Jean lag ongemaklik: “Apolagies all round.”

Binne kan hy voel dat dit nie veel sal vat om die storm terug te bring nie, maar hy besef dat dit net dinge gaan bederf om nou moeilikheid te maak: “Jy’s selfsugtig, dis tyd dat jy daai kwaad ontgroei.” Hy dink dit net voor hy die Tequila afgooi en sy mond in ‘n tuit trek soos die bitter hom slaan. Hy voel dronk. Hy besef hy is baie dronk.

“Kom ons dans.” Hy wag nie dat sy antwoord nie. Hy vat haar aan die hand en ly haar na ‘n opening tussen die tafels en stoelle. Hulle dans naby mekaar op die lied. Hy ruik aan haar hare en vat saggies daaraan. Sy sê niks. Sy is effens lam na al die drank, maar op ‘n lekker manier. Sy kan nie onthou wanneer laas sy so ontspanne was nie; en gelukkig. Hulle dans na aan mekaar tot die lied stop. Dit word gevolg deur die nuutste Afrikaanse danstreffer, hulle kyk na mekaar en trek hulle gesigte in afkeuring:

“Kom ons waai. Kom ons gaan swem.”

“Nou?”

“Ja.” Sê Jean. “Nou, nou is die beste tyd. Mense dink te veel. Lewe in die oomblik, dis al wat ons het. Fok filossofie. Fok intelektuele denke en besinnings. Fok verwagtinge. Fok alles!”

Hy basuin dit uit soos die credo van ‘n rustelose dronk digter wat die wêreld wil breek. Hy vat haar aan die hand en ly haar deur die voorportaal na die binnehof en die swembad. Die area is verlate. Hy trek sy klere uit en spring in. Sy huiwer.

“Kom nou man, die water is lekker!”

Sy trek haar klere uit en spring in. Die water is koud maar heerlik verfrissend. Sy voel hoe haar energie terugkom. Sy duik na benede en swem met ‘n lang boog na onder voor sy reg langs hom opkom aan die diepkant. Skielik hou hulle mekaar vas. Dit het net gebeur, sonder enige beplanning of voorafbepaalde gedagtes. Hulle albei het besluit om nie te veel te dink nie. Jean kan voel hoe die bloed deur sy lyf pols. Haar liggaam druk styf teen syne en sy liggaam reageer. Sy voel hom teen haar en vind niks fout daarmee nie. Sy omhels dit en gee oor aan haar gevoellens, en aan hom. Die natuurlike siklus bereik sy konklusie, en bevry en verbind albei tergelykertyd.

 

Die wit lakens bou heuwels van donker en lig soos dit  hulle verstengelde ledemate met bleek kontoere bedek. ‘n Selfoon ly gedemp onder ‘n hopie klere op die grond lands die bed. Sy maak haar oë oop en besluit om dit nie te antwoord nie. Eventueel hou dit op met lui. Sy kyk om haar heen, na benede en sy arm wat om haar middel gevou is. Hy snork saggies en ritmies. ‘n Half leë wyn bottel vang die sonstrale in groen glas en maak ‘n drogskadu tee die muur. Sy besluit om nie te dink nie, om nie te voel nie. Dan probeer sy die aand onthou. Onseker momente flits vaagweg in haar gedagtes. Dans, musiek en water. Dan kom dit sonder ‘n wilsbesluit of toestemming. ‘n Skuldgevoel oorweldig haar en sy voel lus om te huil. Die foon lui weer. Sy haal Jean se arm sag van haar lyf af, sit regop en buk vooroor om die foon te antwoord. Sy antwoord: “Hello, Antoinette wat praat.”

Dis haar skoonma; sy klink histeries. Sy luister na die woorde wat soos wapens van vernietiging haar landskap in pyn lê. Sy voel woes en leeg. Sy voel lam van skok; en dan kom dit soos ‘n vloed wat oor rivierbanke breuk en perfekte landerye met ‘n stroom modder en water oorspoel. Hy word wakker van haar ween en vra half dronk van slaap: “Wat’s fout?”

 

Hy kan die lig op sy gesig voel: “Maak wyd oop.” Die dokter se vingers betas die kant van sy slape. Hy maak geluide van konfirmasie. “Hmm,... aha... ja...”

Hulle het vir hom gesê hy gaan nog ‘n hele ruk hier moet bly vir observasie. Die psigiater het gesê hy maak uitstekende vordering, dat hy nog vir lank gevoellens van depressie en woede sal ervaar; maar dat hy die punt van omkeer bereik het en dat hy besig is om heel te word. Die spesialis het gesê dat daar fisies niks skort met hom nie, dat sy toestand psigosomaties is en dat daar ‘n goeie kans is dat hy weer sy sig sal herwin. Wanneer kan hulle nie sê nie, dit hang van hom af.

Die suster vat hom aan die hand en ly hom by die deur uit. In die gang kan hy voel hoe ‘n aangename, koel bries die hittegolf breek. Hy druk die suster eenkant toe en stap in die rigting waarvandaan die bries afkomstig is. Hy tas die muur raak en volg dit tot by die oop venster. Hy vou sy palms om die tralies voor die oop ruit en staan met sy wang teen die bries, en sug.

Dan voel hy hoe ‘n hand liggies aan sy skouer vat. ‘n Ou bekende reuk en die einde van verlange omhels hom soos droë grond wat terug keer na die vloed.