F  R  E  E       W  I  L  D       W  O  R  L  D 
 A   T  r  a  v  e  l   B  l  o  g   f  o  r   t  h  e   W  i  l  d   a  t   H  e  a  r  t
0174

                                                                          visitors


Mense Slaap op 'n Trein

Die trein ruk in beweging
in
swaar wiele rol luidrugtig
klippers spat van spoor tot spoor
stotter-tweifel-koppe-knik-bo-slap-nekke
ruk-ruk… ry

passasiers met dik oë soos oorvol lunch toebroodjies
vreet sonder eetlus aan die eerste lig, gaan sit en word meegevoer
deur stilstaande bome met, donker gehawende takke
wat in vingeragtige silhoeëtte verby sliert
die staalspoor teem skril en hou tyd met skelgeluide om elke draai
friksie en weerstand hang soos nagmerries in die buik van ʼn masjien-monster
wat kilometers verteer, en stof en roet uitspoeg
die kompartement word ʼn bewegende holte in die palm van ʼn gestolde landskap
met ʼn eie bestaan en realiteit, relatief stil van binne, en bewegingloos
soos ʼn Einstein vergelyking sonder die wiskunde
buite in gehuggies hoor slapende kinders die silwer slang se blaas
soos dit stadig aangeseil kom en rakelings verby hulle bewussyn beweeg
hulle droom van die dag wat hulle die paradys sal verlaat om te arbei
in die wakker wêreld van sweet en bloed
in die afgesluite kompartement sit die gewillige passasiers
gelaai, opgevreet en ingesluk
hulle is wakker, maar hulle slaap
hulle is wakker, maar hulle slaap