F  R  E  E       W  I  L  D       W  O  R  L  D 
 A   T  r  a  v  e  l   B  l  o  g   f  o  r   t  h  e   W  i  l  d   a  t   H  e  a  r  t
0346


Die Onwetende Ghoeroe



My onwetende ghoeroe werk in die tuin

sy hande is knop getrek, maar sonder pyn of verligting of enige ander

fisiese verwagting

ek sien hom as die son glimmend oor die rante breek en my hart raak lig

soos papier sonder woorde wat wegwaai oor ʼn werf sonder heinings

ek skree-groet: “Môre Oom Piet!”

en my ghoeroe antwoord met ʼn gewone stem: “Môre my Koning.”

hy skuifel-skuifel doelgerig, die tuinvurk soos ʼn goue septer na bo

druk sy vingers in die grond en praat met die aarde

die gate in sy klere ruik na gisteraand se kooi-kaggel

die drommetjie met kole vat vlam op die droë kol onder die boom

die takke van die wilde olyf uitgesprei soos are wat bruin bloed gee aan die blou lug

hy gaan sit op sy hurke, kyk na die uitspansel van dankbare gewasse

die kompos is nie dood nie, dit ruik na nuwe lewe

polle groen gras buig nader en luister

Om Piet kug twee maal, en die plante is dankbaar; want hulle kan tel tot by drie

vanaf die stoep kan ek die takkie-brand ruik

ʼn spook-blou bewegende vervlegde dierbare kol rook draal reguit na bo

(die afvallige blare tuimel deur dit na benede)

die tabak brand met ywer die dag se nuus tot niks tussen skrefie gebarste lippe

wat ly na êrens non-spesifiek

ʼn plek wat vergeet het van dit se eie bestaan

as die skoffel begin gaan staan die rooi sprinkaan in sy spore

hy luister na die onaardse skoffel, die breë hees stem van ʼn smal lyf wat rank deur die jare

teetyd op die stoep betrag ons saam die verloop van tyd

bespreek die begrip van afstand van skoongemaakte lappie tot by rou wildernis

as die son laag gaan lê en gloeiend soos amber staan en stol

bewegingloos eb

stil soos die einde van nog ʼn dag diep teug na binne

stap Oom Piet en maak die plante nat

die gieter word ʼn heilige geskrif in sy hande, wat lewe verniet weggee

en skielik stoot die kruie hulle reuke verder na voor en bo

en as die doodgewone dag sy doodgewone einde bereik

en Oom Piet se mistiese figuur rank weg teen die skemer

glimlag ons beide heimlik

                                   

want ons albei weet onwetend doodgewoon: ek is Sy Koning, en Hy is My Ghoeroe