F  R  E  E       W  I  L  D       W  O  R  L  D 
 A   T  r  a  v  e  l   B  l  o  g   f  o  r   t  h  e   W  i  l  d   a  t   H  e  a  r  t

Ilala-Bye

 “Niks is heilig nie”, mompel hy vir homself. Dis gewoonlik die tye wat hy op sy laagste is, wanneer hy die onverklaarbare gevoel kry dat niks heilig is nie. “Wat lê daar anderkant die water?”, wonder hy mistroostig. Hy tel die brosjure op en kyk na die prentjie. Dit wys ʼn skip wat oor plat water vaar na die sakkende son met die  woorde. ‘Take the Ilala, across Lake Malawi and explore the island paradise of Likoma. Kontiki Tours and Travel.’Miskien is daar ʼn tropiese eiland aan die anderkant van alles.”, dink jy. Hy sluk die laaste van sy dubbel Malibu en Coke en druk die flikkerende knoppie in die Prince of Thieves kroeg aan die rant van suidelike Johannesburg. Die ligte flikker skielik en ʼn digitale hanswors teem met sy skynheilige, blik stem “Jackpot! You’ve hit the Jackpot! Collect your prize!”

 “Ilala, dit klink soos ʼn wiegelied vir kinders”, dink hy en laat die gedagte weg fladder soos ʼn spreeu met ʼn wurm in sy bek. Dis vroegoggend in Nkhatabaai in die noorde van Malawi. Hy het drie dae terug in Mzuzu aangeland en is hier sedert gister. Die nou kamertjie waarin hy die aand deurgebring het reg agter die hawelose hawe het heel aand asem gehaal. Hy weet dis net in sy kop dat dinge onlangs begin lewe het , maar dit was nou deel van sy realiteit en soms ontstel dit hom genoeg om voor teetyd sy eerste bier oop te maak. Hy staan en kyk na die stuk water voor hom waarin die wrakke van twee vissersbote halflyf lê en wegkwyn. Agter hom hang ʼn paar vissermanne raserig rondom ʼn pool tafel. Hy wag vir die Ilala, die boot wat hom oor die meer sal neem tot by Likoma eiland waar hy hoop om ʼn rukkie te bly en sy sinne te herwin. Hy was vir etter lank gatvol voor hy die moed bymekaar geskraap het om verlof te neem en agter die mal droom aan te vlug.Sy vertrek eers een uur more oggend, en hy het die hele dag om te verwyl. Hy draai om en koop ʼn bier by die karige kroeghokkie war ʼn jong kêrel van niks meer as 14 aangestel is om die verkope te behartig. Dis een van die dinge waarvan hy hou in die land, alles is buigsaam, alles is oop vir interpretasie. Die reëls gevorm deur ryk, akademici geskoei in Westerse moraliteit wat geen gevoel vir die land en sy mense het nie is hoogstens ʼn riglyn in praktyk.Hy gaan sit op ʼn lae muurtjie saam met twee ouer mans wat hom vriendelik groet. Hy groet hulle in Chichewa. Hulle gelaatstrekke blom tot glimlagte. Hulle gesels vir ʼn ruk en hulle vertel hom meer oor Malawi.

Toe die gedagte van Likoma by hom posgevat het na sy gelukkie in die kroeg vier maande gelede het hy dadelik begin navors en ʼn paar woorde in Chichewa begin leer. Die ding het hard genoeg by hom gespook om hom te motiveer om soveel as moontlik van die taal te leer. Sy kollegas by die werk het net koppe geskud as hy met sy oorfone woorde soos ʼn morrende papegaai herhaal terwyl hy mure verf of teëls lê. Hy was gatvol genoeg om ‘n fok te voel.

Nou sit hy hier en kyk hoe die sonnige Afrika dag verby drentel. Hy dink aan die ouens by die werk wat nou kak van die koue in die hoëveld winter en hy glimlag. “Dit was ʼn goeie move. Ek like die plek”, dink hy.

Hy loop van plek tot plek, koop proviand en drink soveel bier as wat sy karige begroting toelaat. Net voor sonsondergang pak hy sy rugsak en stap na die hawe. Dis nog vroeg, maar hy wil die laaste lig op die water vang vir die rit na die boot. By die optelpunt is daar chaos. Alles op die twee eilande word gebring per boot. Mans skarrel op en af en dra enige iets van boumateriaal tot sakke kos geskenk deur westerlinge met skuldige gewetens om die ‘hongersnood’ te verlig. Die wit sakke is duidelik gemerk: ‘Contents Not For Sale’. (Sovêr kon hy geen tekens van enige hongersnood bespeur nie, wel ʼn hele paar vissermanne wat maer is van rondlê en te veel drink na ʼn harde skof middernagtelike vangste).

ʼn Man wys vir hom om sy bagasie te laai, maar die bootjie is so oorvol dat hy nie kans sien om in te klim nie, dit lyk of die karige bootjie wat hulle na die skip moet neem enige oomblik gaan tiep, en hy’s nie lus vir drama nie. Hy besluit om te wag vir die volgende een.

 Die son is goud op die oppervlak van die water teen die tyd wat hy geneem word tot neffens die romp van die Ilala. Na nog ʼn mal geskarrel en baie hande wat gryp, gooi en aangee met vinnige bewegings en harde stemme bevind hy hom op die onderste vlak tussen ʼn warboel mense en goedere. Gedroogde vis lê uitgestal bo-op groot sakke wat alles bevat van rys tot meubelment. Hy worstel deur die stomende lywe en mik vir die kroeg op die boonste vlak waar hy homself gemaklik maak terwyl hy wag vir die son om te sak.

Die res van die passasiers maak deur die verloop van die aand hulle verskyning in die vorm van klein groepies en enkellopers. vreemdeling van alle moontlike beskrywings kom aanboord, die passasiers van ʼn spookagtige skip uit die verre verlede, moontlik andere soos hy wat weghardloop van vrae en hoop vir onmoontlike antwoorde.

As sy biergeld opraak slaan hy oor na die klein botteltjies goedkoop drank wat hy in Nkhatabaai gekoop het by die informele stalletjies orals langs die vernielde paaie. Hy kon nie ʼn kajuit bekostig nie. Sy bed word die planke van ʼn 70 jaar oue boot en die sterre word sy plafon. Tydens die tog word dit bitter koud. Die wind wat blaas oor die water maak ʼn onvergeetlike winter naby aan die ewenaar. Hy trek al sy klere aan, maar dis nie genoeg nie. Hy gaan af na die tweede vlak en dis bietjie beter, maar steeds lê hy en bibber meeste van die aand. As die son eindelik die volgende oggend sy opwagting maak bring dit groot verligting. Die warmte trek deur sy stram lyf soos skoon Malibu , rein, sonder mix. Hy voel skielik vir die eerste keer in jare uitsonderlik goed, so asof  die koue ʼn groot las kaf geknetter het, sorgvry en avontuurlistig.

Vroegoggend op die boonste vlak is daar reeds ʼn paar manne wat bier drink en reggae luister. Dit lyk na ʼn mooi dag. Hy neem deel aan die sorgvrye hedonisme en geniet elke oomblik. Teen die tyd wat die Ilala teen mid-oggend haar bestemming bereik is hy reeds ʼn ent weg van nugter of omgee. Op ʼn stadium keer die vet man met sy bokbaard, pofhande en Amerikaanse aksent wat hom heel aand fyn dop gehou het, hom vas. Hy sê hy is ʼn sendeling van Wisconsin wat die Woord vir die mense op die eiland bring. Karel weet wat kom, Die ou doos het soos ʼn roofdier sit en wag tot hy op sy swakste is en nou was ʼn poging tot die groot bekering oppad. Karel sal net nog ʼn trofee in sy heilige kas wees indien hy slaag, maar Karel ken die laai en vermy dit uitgeslape. 

Om op land te kom deel hy ʼn boot met die sendeling en sy vriende. Hy verwag nog ʼn aanslag op sy siel, maar daar kom niks van nie, en dis ʼn verligting. Die enigste gebed wat hy opsê is die een om nie bekeer te word nie.

Op land is dit drie kilometer se stap na die kamp. ʼn Jong man help hom dra vir ʼn paar Kwacha. Hulle stap deur die klein kusdorpie. Kinders kom hang aan sy hande. In die begin voel hy bedreig deur hulle openhartige onskuld, maar na ʼn ruk raak hy gewoond daaraan en hy voel vreemde gevoellens ruk aan sy binneste. Hy is weerbaar vir die eerste keer in jare, en hy is nie seker wat om daarmee te maak nie. Vir die eerste keer raak hy bewus van hoe vêr hy van sy mense is. Dis asof hy terug klim in die baarmoeder en wegvaar na plek waar hy eens gewoon het.

 

In die derde week ervaar hy die eerste simptome. Dis laat in die middag en koue rillings ritsel van tyd tot tyd deur sy lyf soos ʼn slang in die water van ʼn donker rivier. Kort daarna ontwikkel hy ʼn kloppende hoofpyn. Dit is nie die eerste keer dat hy dit voel nie en sy moed sak. Hy vermoed wat kom en dit is nie ʼn prettige gedagte nie. Jare terug as ʼn jong man in Mosambiek op die punt om verewig te verdwyn op ʼn skip na Indië vanaf Maputo het hy dieselfde simptome ervaar. Daai keer was hy jonk en naïef. Die feit dat hy so lank gewag het voor hy sy droom op ontvlugting verraai het om hulp te kry, het byna sy dood veroorsaak. Na ʼn vyf dae koma het hy wakker geword in ʼn wit kamer in ʼn kliniek in Johannesburg met sy moeder wat sy hand vashou en gebede prewel. Dit was die laaste keer wat hy probeer het om te verdwyn.

Die jong dokter by die kliniek het sy vermoedens bevestig. Hy het homself voorberei vir ʼn lang aand. Die simptome het spoedig vererger. Terug in die kamp het hy onmiddellik ʼn vyf liter bottel met water volgemaak, sy eerste pille gevat en in sy tent gaan lê en wag vir wat kom. Net na sononder het die koors begin. Die tent het geen buitenste laag gehad nie en deur die deursigtige binnelaag kon hy die sterre waarneem. Kort voor lank hy hom nie meer aan die sterre gesteur het nie. Hy het gewens hy kon dan en wan net wegglip na die land van slaap om die onaangename simptome vir ʼn wyle te ontsnap, maar die koors en die pyn in sy lyf hou hom bewus van die les wat hy besig is om te leer. Die keer maak die siekte seker dat hy alles voel. Toe die sweet stroompies maak om sy brandende lyf af te koel sit hy sy hand op sy voorhoof en dink by homself: “Magtig, ek is besig om af te brand. Hoe hittig kan ʼn brein raak voor dit begin smelt?” Kort daarna begin vergete herinnering soos opgeblaasste lyke deur die oppervlak van sy bewussyn plons. Dele van sy eie verhaal wat hy lankal vergeet het. Die dag toe hy as kleuter onder die draad deur gekruip het om te vlug iewers heen, nugter weet na waar, is skielik onnatuurlik duidelik op die skerm van sy verbeelding. Dit is een van sy eerste herinneringe. Nostalgiese gevoellens stroom deur sy fragiele gedagtes. Hy weet nie meer hoe laat dit is nie, net dat die nag donker is op verskeie vlakke. Op die laagtepunt dink hy skielik dat die kans om te sterf baie goed is. Die gedagte ontnugter hom. Hy vra homself af of hy reg is daarvoor? Eers is hy bang en hy dink hoe graag hy nog wil lewe. Daar is nog so baie dinge om te sien en te doen. Hy wou nog altyd net weer eenmaal die liefde van ʼn vrou ervaar. Later is hy te moeg en deurmekaar om, om te gee. “Wat maak dit saak? Ek kan net doen wat ek kan, daarna sal dinge loop soos dit loop. Dis totaal buite my beheer. Ek is net ʼn passasier op ʼn rit waarvoor ek nie ʼn kaartjie gekoop het nie, net soos almal wat al ooit bestaan het. As ek moet vrek moet ek vrek. Dit sal nie help om daarteen te stry nie.”

En toe skielik iewers diep in die kronkelmaag van die nag breek die koors en hy voel hoe die verligting oor hom spoel. Hy trek homself met moeite orent en buk deur die tent opening. Hy kyk op na die sterre en vat ʼn dankbare pis op die sand met die branders wat raserig net voor hom rol en spat. Nie vêr van hom af nie kan hy hoor hoe vissermanne ʼn net intrek. Die geluide van die net in die water en hul stemme lui helder soos klokkies deur ʼn duister gordyn.

“Ek lewe”, se hy hardop oor die water en lag.  Die hele absurditeit van alles lê skielike ontbloot. Die wêreld staan kaal en die grimering is weg van die hanswors se gevreet. “Fok my, dis alles so eenvoudig.”

Sy oomblik van helderheid is van korte duur voor die koors weer begin, maar hy weet dat die ergste verby is. Die res van die nag worstel hy met sy gedagtes en die besmetting. Net voor die son opkom val hy weg in ʼn diep slaap. As hy wakker word ruik sy tent na suur sweet, maar hy voel te swak om iets daaraan te doen. Hy probeer lees maar sy konsentrasie is weifelend. In die middel van die dag kry hy dit reg om teen die sanderige steilte op te stap tot by die longdrop en te ontlas. Elke tree voel swaar en lomp. Hy hyg lusteloos en al waaraan hy kan dink is om weer terug te wees op die klam matras. Net voor sonsondergang kom ʼn vrou van die naburige nedersetting en gaan sit op haar hurke voor die opening van sy tent: “How are you?”

Hy besef dat sy nog die heeltyd ʼn ogie oor hom hou, en dit maak sy hart sag.

“I’m okay, I think”, antwoord hy met ʼn moeë stem.

“I made you a bath. You must come.”

Sy hele liggaam tesame met sy swak gemoed skree teen die idee, maar sy dring daarop aan. Hy stap stadig na die boonste deel van die kamp. Sy het ure spandeer om vuur te maak en vir hom water te kook. Sy dra die warm water na ʼn afskorting en sit dit neer tesame met ʼn skoon, wit handdoek en ʼn koekie seep. Hy was die suur sweet van sy lyf af en voor hy dit kan keer loop trane oor sy wange. Hy huil terwyl hy bad. As hy klaar is voel hy verruklik en nederig dankbaar.

 

Terug in die Prince of Thieves wikkel hy die ys in sy glas Malibu en Coke. Dis ʼn woelige Vrydag aand en hy is bly om terug te wees. Hy stap oor na die dobbelmasjiene en gooi ʼn klomp munte deur die gleuf. Deur die loop van die aand sien hy hoe die nommers rol en sy geld wegdra, maar dit maak nie saak nie. Hy like wat hy doen. Hy like sy lewe. Hy like van dobbel, en dan sypel die woorde na bo: “Alles is heilig. Niks is heilig nie. Niks is heilig nie. Alles is heilig”, en hy lag, en lag, en lag...